Ongerief en groot brandskade by Kleinmond Spar

Kleinmond Spar se alarm het baie vroeg verlede Woensdagoggen afgegaan. Mnr. Van Niekerk en Michael Kiessling van ASK het hulle in die vroeë oggendure na die winkel gehaas want daar was aanduidings van onreëlmatige bedrywighede in verskeie sektore van die winkel. By die winkel aangekom het mnr. Van Niekerk onmiddelik gesien dat daar ‘n brand agter die gebou ontstaan het. Die brandweer en polisie is ontbied en van die ander sekuriteitsfirmas het ook op die toneel opgedaag. Die kamer agter die gebou asook die gebied waar al die kompressors geberg word, was aan die brand.

Mnr. Van Niekerk en Michael het die winkel binnegegaan en gevind dat niemand in die winkel was nie, en dat dit inderdaad die brand was wat die alarmstelsel geaktiveer het. Die winkel was vol rook. Die waaiers wat in die dak van winkel is, het baie gehelp om die rook uit die gebou te verwyder aangesien warm lug opstyg. Die aangrensende winkel, Non-Foods, het ook baie rook in die winkel gekry. Daar is rook en water skade in die winkel aangerig.
Mnr. Van Niekerk se aanvanklike vrees was dat daar dalk ‘n persoon in die vullisgat kon wees waar die brand ontstaan het en doodgebrand het. Gelukkig is daar later vasgestel dat daar niemand was nie.

Kleinmond Spar het aansienlike verliese weens hierdie brand gely. Die polisie ondersoek intussen ‘n klag van brandstigting. Die brand is gekeer voordat dit na die res van die winkel kon versprei.

Die winkel se vrieskamers, vrieskaste en yskaste is weens die brand buite werking gestel. Sewe van die nege kompressors wat die koelkaste en die verkoelde vertoonkaste bedien, is in die brand vernietig. Een van die gevolge van hierdie skade was dat die voorraad suiwelprodukte wat verkoeling nodig het, nie gered kon word nie. Spar se bestuurspan kon egter ‘n plan maak om die vleis en groente verkoel te hou en dit vir die publiek beskikbaar te stel. ‘n Vrieskas wat inderhaas uit Kaapstad aangevra is om in die noodsituasie van verkoeling in die winkel te help, het met aankoms in Kleinmond nie gewerk nie. ‘n Verkoelingsdeskundige het intussen gehelp om twee van die bestaande kompressors te herstel deur beskadigde dele te vervang. Na afloop van hierdie moeilike week het mnr. Van Niekerk bevestig dat dit die onbaatsugtige hulp en ondersteuning van mense uit verskeie sektore is wat in hierdie noodsituasie ‘n verskil gemaak het.

Dit was die personeel van Spar, die sekuriteits amptenare, dienslewering van die brand bestrydingsafdeling van die Kleinmond munisipaliteit, en veral uitstekende diens van die versekeraars.
“Dankie aan al die kliënte vir u belangstelling en besorgdheid. Ons waardeer dit opreg.”

NEWS

A collection of articles involving security and police response in the Overberg region.

Security Tips

Find useful tips and techniques for growing a safer and more secure lifestyle.

Newsletters

Stay up to date with news and developments within ASK Security.